Bergrivier
Terug na hoofblad

Groot pret vir ondersteuners van marathon

LANGEBAAN – Deelnemers aan vanjaar se 17de Weskus-marathon op Saterdag 21 April by die Langebaan Country Estate (LCE) het al die aanmoediging nodig wat hulle kan kry.

Daar word ‘n volle marathon van 42.2km, 'n halfmarathon van 21.1km, 'n 10km en 'n 5km-pretdraf gehou.  Die marathon is enig in sy soort in Suid-Afrika met atlete wat vroegoggend per bus na die beginpunt by Tsaarsbank in die Weskus Nasionale Park geneem word vir die 42.2km.

Die eindpunt is op die oefenbof by die LCE. Kom kyk gerus hoe die deelnemers aan die 21.1km, 10km en 5km op die oefenbof wegspring en weer daar klaarmaak.

Al die kosstalletjies, verversings, ‘n biertent en ‘n markiestent gaan vir ‘n feestelike atmosfeer sorg en HeartFM gaan oudergewoonte weer die vermaak voorsien en deurentyd aankondig wie klaarmaak.

Hoewel die inskrywings vir die vol en halwe marathon al gesluit het, kan deelnemers aan die 10km en 5km nog Saterdagoggend van 04:30 tot 05:45 inskryf.

Die marathon begin om 07:15, maar al die deelnemers moet teen 06:00 by die registrasie- area wees, wanneer die laaste busse na Tsaarsbank vertrek. Die 10km begin om 07:30 en die 5km om 08:15.

Die prysuitdeling vind om 10:15 plaas vir die 5km en 10km, 11:30 vir die halfmarathon en 12:45 vir die marathon. Ten spyte van algehele prysgeld van meer as R20 000, sal daar ook baie gelukstrekkinge wees en hardloopskoene, staptoerusting, restaurantbewyse, eksklusiewe geskenkmandjies, ontbyt-en-verblyfbewyse kan onder meer gewen word.

'n Pragtige Dri Fit T-hemp kan teen R200 per hemp bestel word. Lees meer by weskusmarathon.co.za.

Jou Goeie Nuus - Gratis - Koerant met 'n Verskil in die Swartland - Ons dien en bou © die courant hou kopiereg op alle inhoud van hierdie webwerf en geen deel daarvan mag sonder die bestuur se toestemming gekopieer word nie.