Terug na hoofblad
Wellington

Danelene is 'n dromer en doener

•Jaomi Zeeman

Danelene Ruiters is nie net ‘n dromer met groot idees nie, sy is ook ‘n doener wat woeker om haar drome vir landelike mense gestalte te laat neem.  Hierdie plaasmeisie van Wellington is baie trots op haar landelike herkoms en het die afgelope week haar eie nie-winsgewende organisasie, Rural and Proud, geregistreer.

Sy het groot planne om mense in landelike gebiede deur middel van hierdie organisasie te bemagtig.

Danelene is ‘n suksesvolle landboukundige en werknemer van AMC Fruit SA.  Sy het in 2016 as innovasie tegniese assistent by die maatskappy begin werk en is in 2017 as die tegniese betuurder van druiwe aangestel.  Hierdie jaar is sy tot mark-toegansbestuurder bevorder.  Sy is ook ‘n trustee van hierdie internasionale maatskappy se nie-winsgewende been, Muñoz Foundation.

Danelene is ‘n boorling van die plaas Desperado buite Wellington en het haar skoolloopbaan aan Pauw Gedenk, Wellington Primêr en Bergrivier Hoërskool voltooi.  Sy het in 2010 haar BA-graad in plantproduksie aan Elsenburg verwerf en werk sedertdien in die landbousektor.  Hierdie klein mensie het egter ‘n groot hart en gebruik haar kundigheid, kennis van landbou en haar liefde vir mense om ‘n verskil in veral landelike mense se lewens te maak.  Die stigting van haar Rural and Proud-organisasie was vir haar dus ‘n logiese uitvloeisel en samekoms van al haar passies.

“Ek wil die hulpbronne en kennis tot my beskikking gebruik om ‘n ommeswaai in die manier waarop die samelewing na plaaswerkers kyk, te weeg te bring, maar ook die beperkende ideale wat hierdie mense vir hulself stel, met ‘n groter visie te vervang,” sê sy.

Alhoewel sy deur middel van haar werk as trustee van die Muñoz Foundation die geleentheid kry om in landelike gemeenskappe terug te ploeg, fokus hierdie organisasie meestal op die plase wat aan hulle vrugte verskaf.

“Daar is soveel ander plase waar mense ook hulp nodig het.  Met Rural and Proud sal ek die geleentheid hê om soveel meer mense te bereik,” verduidelik sy.

Sy gaan Rural and Proud saam met twee ander direkteure bedryf.  Hulle is ook altwee oorspronklik van landelike gebiede en verstaan die omstandighede en dinamiek van plaaswerkers.

Volgens Danelene sê die naam van haar nuwe organisasie presies wat dit is.

“Dit definieer wie ek is.  Dit is deel van my erfenis, want my voorgeslagte was almal huishulpe of plaaswerkers.  Ek voel ‘n mens moet aanvaar en erken waarvandaan jy kom en trots wees daarop, maar dit hoef nie noodwendig te bepaal waarheen jy op pad is nie.  Ek sou nooit ‘n ander herkoms wou hê nie.  My lewe as plaasmeisie het my gemaak wie ek vandag is,” sê sy trots en sonder ‘n sweempie bitterheid.

Met Rural and Proud wil Danelene mense in landelike gebiede bemagtig en inlig.

“Mense op plase is dikwels oningelig en weet nie wat in die wêreld rondom hulle aangaan of wat die moontlikhede buite hul verwysingsraamwerk is nie.  Ek wil hulle bewus maak van wat aangaan, hulle bemagtig en toerus om te leer.  Ek wil hê veral die jongmense moet ophou met hul ‘lazy mindset’ en hul denkwyse skuif na iets meer positief en pro-

aktief.  Hulle moet weet hulle kán ‘n waardevolle lewe lei.  Hulle moet hulself afvra:  Waarheen is ek op pad?” sê sy oor haar visie vir hierdie nuwe inisiatief.

Volgens Danelene is daar baie uitdagings in die lewens van mense in landelike gebiede.

“Dit waaraan hulle van kleins af blootgestel word, word hul verwysingsraamwerk.  Alkoholmisbruik en om skuld te hê is doodnormale dinge op plase.  As ‘n mens hierdie negatiewe siklus met die verskuiwing van hul denke kan verander, kan jy die lae selfbeeld en selfwaarde wat hierdie mense het, aanspreek.  Mense moet weet hulle het een van twee keuses:  Jy kan toelaat dat jou omstandighede en herkoms jou definieer en daarin vasgevang raak, of jy kan dit omarm en as motivering gebruik om iets beter te wil hê,” laat sy passievol hoor.

Danelene is nog jonk, sy is klein en ‘n vrou.  Hoe laat sy haarself geld en watter raad sal sy aan jongmense met groot drome gee om ook suksesvol te wees?

“Begin by jouself.  Die lewe skuld jou niks.  Jy moet jouself laat geld deur hard te werk.  Opvoeding is die belangrikste ding waarmee jy jou kan bemagtig.  Introspeksie kan jou jou goeie en slegte eienskappe laat raaksien en ken, sodat jy weet waaraan jy kan werk.  As jy jou waarde ken, sal dit soveel moeiliker vir dinge en mense wees om jou onder te kry,” sê sy.

“Onthou, sukses diskrimineer glad nie.  Moet nooit die beeld wat ander van jou het, aantrek nie,” voeg sy by.

Danelene se planne ken geen einde nie en sy is reeds besig om die eerste projekte van Rural and Proud te organiseer.

Haar beplanning vir ‘n vrouedag-funksie, sowel as ‘n funksie vir mans, is reeds ver gevorder.  Sy wil ook ‘n behoorlike bekendstellingsgeleentheid vir Rural and Proud hou.  Danelene is verder besig om bande met plaaslike landelike skole te smee en beplan ook ‘n “library on wheels” waarmee sy hierdie skole wil bedien.

Sy beplan voorts om ‘n program waarmee sy mense in landelike gebiede meer oor goeie finansiële bestuur en die waarde van spaar van stapel te stuur.

“Ek wil ook met die boere saamwerk en hoërskoolkinders meer blootstelling aan beroepsvoorligting en dinge soos die aansoek om ‘n ID en die saamstel van ‘n CV gee,” vertel sy.

Dit lyk asof alles waaraan Danelene raak, in iets goeds verander - heel waarskynlik as gevolg van haar positiewe lewensbeskouing.

“My geloof is my fondasie.  Ek kyk altyd na varkblomme en dink:  hulle staan met hul voete in die modder, maar hulle het reguit, regop stele en die mooiste kelke.  Ons mense kan ook so wees,” sê sy.

Karel is ‘n kampioen in plaaslike gemeenskap

•Jaomi Zeeman

Die Wellingtonner Karel Dampies is iemand wat ‘n mens nie in een sin kan opsom nie.  Hierdie veelsydige man is 'n professionele administrateur, ‘n kunstenaar en by soveel gemeenskapsprojekte betrokke, dat ‘n mens wonder hoe hy genoeg ure in ‘n dag vir alles kan inruim.

Sy vriendelike persoonlikheid, sy energieke benadering tot alles wat hy aanpak en die manier waarop hy met mense omgaan, maak hom ‘n geliefde persoonlikheid op Wellington.

Karel is sy lewe lank al ‘n Wellingtonner.  As een van vier kinders, het hy op ‘n plaas buite die dorp grootgeword en sy laerskoolloopbaan aan Voor-Groenberg Primêr voltooi.

“Ek onthou hoe ons selfs in die middae van twaalfuur tot vyfuur klas gehad het, omdat die klasse te min was.  Ek onthou ook hoe ek in die skoolkoor by die stadsaal gesing het.  Ek het smiddae altyd maatjies huis toe geneem vir iets te ete.  Ek dink my liefde en omgee vir my gemeenskap, het daar al begin,” sê hy.

Vandag is Karel ‘n administrateur by Pioneer Foods.

“Ek het in 1984 daar as skoonmaker begin en oor die jare deeltyds en na-ure studeer.  Dit was harde werk, maar kyk waar is ek vandag,” sê hy tevrede.

Sy goeie werksetiek is egter nie iets wat Karel slegs tot sy professionele lewe beperk het nie - hy het homself deur die jare as een van Wellington se mees betrokke en toegewyde gemeenskapswerkers gevestig.

Karel is by verskeie gemeenskapsinstansies, -projekte en -inisiatiewe betrokke.

“Ek is die sekretaris by die Vriende van die Biblioteek, ‘n lid van die Vriende van die Museum en ‘n raadverteenwoordiger, sowel as vir ses jaar lank al ‘n beoordelaar by die Ekspo vir Wetenskap wat jaarliks op Stellenbosch gehou word.  Dan is ek ook ‘n gesondheidsraadgewer by die Distriksmunisipaliteit, ‘n verteenwoordiger vir NACOSA wat Vigs en TB-projekte hanteer, ‘n lid van die MSAT in Drakenstein en die sekretaris vir kuns en kultuur by die Breytenbach-sentrum.  Ek was onder andere ook die verhoogbestuurder by die bekroonde toneelstuk, ‘Pa, maak vir my ‘n vlieër, pa’,” noem hy ‘n paar projekte waar hy sy gewig ingooi.

Karel se gemeenskapsbetrokkenheid en die geweldige positiewe werk wat hy as lid van talle instansies doen, het ook nie ongesiens verbygegaan nie.  Hy is al vir talle toekennings vir sy diensbaarheid benoem en talle kere vereer.

Hy is al twee keer deur die plaaslike munisipaliteit vir sy werk in die gemeenskap en sy betrokkenheid in die vallei vereer.  Hy het ook al twee keer benoemings vir die Tomorrow’s Leaders-toekennings, wat elke jaar by Sun City plaasvind, ontvang.  Karel is boonop al twee keer by Pioneer Foods vir sy gemeenskapsdiens en bydraes genomineer.  Hy is ook vir die NSFT vir gemeenskapsdiens en sy betrokkenheid by nie-regeringsorganisasies genomineer.  Hy is onlangs ook vir die Southern African Startup-toekennings benoem, Jet het hom al vir sy gemeenskapsdien beloon, hy het al ‘n Ubunthu-kompetisie deur Protea Hotels gewen en KANSA het Karel al vir die Clicks Club se gemeenskapstoekennings benoem.

Buiten sy professionele werk en gemeenskapsbetrokkenheid, is Karel boonop ‘n kreatiewe siel wat graag kunswerke uit weggooi- of optelgoed maak.

“Ek het ook ‘n liefde vir tuinmaak en blommerangskikkings.  Die blomme-ding het begin by die huis.  As my ma gesê het dat ons kuiermense kry, dan het ek sommer veldblommetjies gepluk om die huis mooi te maak.  Ek het myself geleer om iets uit niks te maak en dis waar my liefde vir Ikebana vandaan kom,” vertel hy.

Karel het ook al talle pryse by die plaaslike Aster-skou vir sy handewerk gewen.

“Ek het vir die kinders op die plaas haarstrikkies gemaak en vir my ma haar Moedersdagklere.  Maar nou is my naaimasjien stukkend,” sê hy. Vir hierdie man met die omgee-hart is die grootste struikelblokke op sy pad om dikwels met mense se behoeftes gekonfronteer te word, maar nie die middele te hê om te help nie.  Tog weier hy om negatief te raak.

“My leuse is om self te begin as jy iets gedoen wil hê en dat jy nooit moet gaan lê nie, al het jy gefaal.  My ma het geglo as jy ander help, sal dit met jou goed gaan.  Ná haar dood het ek besef dat sy sou wou hê dat ek daarop moet voortbou,” sê Karel.

Vir hom is gemeenskapsamehorigheid en ‘n trots op erfenis, onontbeerlik.

“Ek wil eendag agteroor sit en na al die albums met die gemeenskap se mooi stories en foto’s sit en kyk.  Ek wil deur ons strate stap en sien dat mense vir ons erfenis omgee en eienaarskap neem van dít wat betekenis het in ons gemeenskap,” sê hierdie man wat elke dag aan nóg maniere dink waarop hy ‘n bydrae onder sy mense kan lewer.

Damme se vlakke styg skerp

Na die uitmergelende droogte waaronder die Wes-Kaap die afgelope paar seisoene gebuk gegaan het, lyk dit asof die gevaarlike lae damvlakke vir eers iets van die verlede is.

Die goeie winterreën wat die afgelope tyd in dié damme se opvanggebied geval het, het die vlakke van damme wat die Wes-Kaap en Boland van water voorsien, aansienlik laat styg.

Die damme in en rondom Kaapstad vorm deel van die Wes-Kaap se watervoorsieningsisteem, wat ‘n geïntegreerde en kollektief bestuurde sisteem van damme, pompstasies, pyplyne en tonnels insluit.

Buiten die feit dat hierdie sisteem Kaapstad van water voorsien, voorsien dit ook water aan dorpe in die Overberg, die Boland, Wes-Kus, sowel as die Swartland areas.

Dit voorsien ook besproeiingswater aan die landbousektor.

Aan die einde van Junie het die damvlakke van hierdie damme op ‘n gesamentlike 42% gestaan.

Slegs ‘n week later, op 2 Julie, het die vlakke met 6% tot 48% gestyg en op 6 Julie het die Wes-Kaap se damme op ‘n gesonde 52,4% gestaan.

Die damme wat by hierdie lesings ingesluit word, is die Bergrivierdam, die Laer- en Hoër Steenbrasdamme, die Theewaterskloofdam, die Voëlvleidam, sowel as die Wemmershoekdam.

Verlede jaar het die gesamentlike damvlakke van hierdie damme in Julie ‘n skamele 25% beloop.

Die damvlakke soos dit tans daaruit sien, het dus reeds meer as dubbel soveel water as wat dit verlede jaar in Julie gehad het.

Daar word verwag dat die goeie sneeuneerslae die afgelope tyd die damvlakke nog ‘n hupstoot sal gee.

Die beste presteerder onder damme in terme van damvlakke is die Hoër-Steenbrasdam wat tans op 99% staan.

Die Bergrivierdam en Wemmershoekdam staan beide op 82%, die Laer-Steenbrasdam op 55%, die Voëlvleidam op 49% en die Theewaters-

kloofdam op bykans 39%.

As ‘n mens in ag neem dat die Voëlvleidam en Theewaterskloofdam, twee van die vernaamste damme in die Wes-Kaap, verlede jaar in Julie albei op slegs 19% gestaan het, is die nuutste syfers verblydend.

Die huidige damvlakke is die hoogste wat dit sedert Junie 2014 was.

Ten spyte die goeie onlangse reënval en die feit dat die damvlakke tans baie beter lyk, sal waterbeperkings egter steeds geld.

Daar sal eers na afloop van die reënseisoen, in oorleg met ander Wes-Kaapse rolspelers, oor die moontlike verslapping hiervan of ‘n verlaging in watertariewe besin word.

Intussen geld die 50 liter-per-dag reël nog steeds en word inwoners van Drakenstein Munisipaliteit steeds aangemoedig om water te bespaar.

-Jaomi Zeeman

Sunfield-film 'n finalis vir internasionale toekenning

Die Sunfield Home het onlangs die goeie nuus ontvang dat ‘n film wat oor hierdie instansie gemaak is, ‘n finalis vir die Internasionale Nova Employment 2018 Kortfilm-toekennings is.

Die film is aan die einde van Mei gemaak en vir die toekennings ingeskryf, waarna dit as ‘n finalis in die kategorie vir Internasionale Dokumentêre Films aangewys is.

Volgens Garine de Wet, bemarkingsbestuurder by Sunfield Home, is die film deur Cader’s Cinematography gemaak.

“Sharnelle Cader is my oudste dogter en ek, sowel as my ander dogter, Lyndsay Cader van die Suidoosterfees, het dit saamgestel.

"Sunfield is ‘n heenkome vir gestremde volwassenes, maar die film fokus juis op die vermoë van ons inwoners,” verduidelik sy.

Ná die film gemaak is, het Elmarie van Schalkwyk, bestuurder van Sunfield Home, voorgestel dat hulle dit vir die kompetisie inskryf.

Die inskrywing is uiteindelik deur Faye Abrahams van die Disability Workshop Development Enterprise (DWDE) ingestuur.

Die Nova Employment Kortfilm-toekennings bestaan uit ses kategorieë en daar is altesaam 296 films uit 26 verskillende lande vir die kompetisie ingeskryf.

Dit is dus ‘n uitsonderlike prestasie om as een van die finaliste aangewys te word.

In die motivering wat Garine saam met die inskrywing vir die film geskryf het, beskryf sy die positiewe ingesteldheid en benadering wat hulle by Sunfield ten opsigte van hul inwoners het.

“Sedert ek as huismoeder in 2015 deel van die Sunfield Home-span geword het, was my fokus nog altyd daarop om die krag van ‘n positiewe gesindheid uit te leef.

"‘n Mens moet fokus op wat jy het, eerder as op wat jy nie het nie.

"Met ons inwoners was my hoofdoel om hul meer oor hul vermoëns as op hul onvermoë te laat fokus.

"Omdat ek self al onder depressie deurgeloop het, moes ek leer om die krag van opkyk, in plaas van afkyk, te gebruik.

"Hierdie Kortfilm-fees is die perfekte platform om ons inwoners, sowel as ons personeel te motiveer,” het sy geskryf.

Hierdie benadering pas perfek by die tema van die Filmfees, naamlik “Focus on ability” (FOA).

Hiervolgens word filmmakers aangemoedig om op die vermoë van gestremde persone te fokus.

“FOA is ‘n deurlopende bron van verwondering vir my.

"Dit het aanvanklik as ‘n lukrake idee by my opgekom:  Sal dit nie cool wees as ons die medium van film kan gebruik om die vermoëns van gestremde mense te belig nie?

"Dit sal die wêreld kan verander.

"Dit gee ons ‘n wonderlike insig in hoe die samelewing se gesindheid teenoor gestremde mense kan verander,” het Martin Wren, uitvoerende bestuurder van Nova Employment, oor die projek gesê.

Volgens Garine sal dit vir Sunfield Home ongelooflik baie beteken as hulle verder in die kompetisie sou presteer.

“Vir ons inwoners sal dit só baie beteken omdat dit ‘n bewys sal wees dat hulle tot alles in staat is.

"Maar net die feit dat ons as ‘n finalis gekies is, is super awesome en die gemoedere loop al klaar hoog hier by Sunfield,” sê sy.

Daar is groot pryse vir die wenners op die spel, maar meer as enigiets anders plaas Sunfield se inskrywing vir die filmfees die fokus op die positiewe vaardighede wat gestremdes het.

Die publiek reg rondom die wêreld kan vir hul gunsteling film stem.

"Die stemming het reeds op 20 Junie begin en enigeen wat Sunfield met ‘n stem wil ondersteun, kan dit by die webskakel

http://www.focusonability.com.au/ doen.

Jou Goeie Nuus - Gratis - Koerant met 'n Verskil in die Swartland - Ons dien en bou © die courant hou kopiereg op alle inhoud van hierdie webwerf en geen deel daarvan mag sonder die bestuur se toestemming gekopieer word nie.