Wellington
Terug na hoofblad

Vallei speel gasheer vir talle sporttoernooie

Wellingtonners kan hul tydens die laaste week van die skoolvakansie aan ‘n paar groot sportgeleenthede in die omgewing verlustig.

Vir sportentoesiaste is daar ‘n keur van verskeie sportsoorte, groot toernooie en wedvaarte wat hier op Wellington se drumpel plaasvind.

Die jaarlikse Cravenweek-rugbytoernooi, sowel as die Akademieweek vind vanaf 9 tot 14 Julie in die Paarl plaas.  Paarl Boys High tree, as deel van die viering van hul 150ste bestaansjaar, as gasheer vir hierdie geleentheid op.  Talle van die spanne wat aan hierdie toernooi deelneem, het reeds die afgelope naweek op Wellington aangekom waar hulle van koshuisverblyf in ons dorp gebruik maak.  ‘n Program van die toernooie is by www.schoolboyrugby.co.za beskikbaar.

Die Bergrivier-kanomarathon skop ook op Woensdag 11 Julie in die Paarl af.  Dit sal die 57ste keer wees dat roeiers aan hierdie groot wedvaart deelneem en met die goeie watervlakke in die Bergrivier, beloof dit om ‘n suksesvolle geleentheid te wees.  Die organiseerders van die wedvaart, het besluit om hierdie jaar se marathon ter ere van Nelson Mandela se nalatenskap aan te bied.  Mandela sou vanjaar 100 jaar oud wees en daar word wêreldwyd vieringe ter ere hiervan gehou.

Om hierdie eeufees te vier sal daar vyf Nelson Mandela-eeufees-vryheidswandelings tydens die duur van die Bergrivier-kanomarathon aangebied word.  Die eerste wandeling sal op Woensdag 11 Julie om 08:00 vanaf die Paarl Arboretum plaasvind.  Dié stap sal net betyds eindig sodat die stappers die wegspring van die marathon kan gade slaan.  Op dieselfde dag sal nog ‘n wandeling vanaf Rondeheuwel Primêr tot by die Du Vlei-plaasstal plaasvind.  Hierna sal daar elke dag ‘n wandeling tot aan die einde van die dag se roeiskof plaasvind.

Meer inligting oor die wedvaart is op die webtuiste www.berg.org.za beskikbaar en inligting oor die wandelinge is op facebookblad “Berg Marathon Freedom Walks” beskikbaar.

Nog ‘n groot sporttoernooi wat gedurende hierdie week op Wellington plaasvind, is die Wes-Kaap Skolenetbal se inter-distrikstoernooi.  Hierdie toernooi sal vanaf Donderdag 12 Julie tot Saterdag 14 Julie op Hugenote Hoërskool se bane plaasvind en tientalle netbalspanne, sowel as honderde ondersteuners, afrigters en skeidsregters sal ons dorp vir hierdie geleentheid besoek.

Hierdie toernooi is vir spelers wat net-net nie by die Wes-Kaapspanne ingesluit is nie en al ses munisipale distrikte in die Wes-Kaap sal aan die toernooi deelneem.  Alle onder 11- tot onder 18-spanne sal vir hierdie doel deelneem.  Daar sal na raming ag spanne van 10 spelers elk in elke ouderdomsgroep deelneem, wat ‘n beraamde 640 spelers, 64 afrigters, 64 spanbestuurders en ongeveer 70 skeidsregters sal behels.  Netbalentoesiaste kan dus na ‘n fees van netbalaksie op Wellington uitsien.

Met só ‘n keur van uithaler-sportgeleenthede in die omgewing, behoort die laaste week van die wintervakansie alles behalwe vaal of vervelig te wees.  Met die Bergrivier-kanomarathon, die Cravenweek-rugbytoernooi en ‘n inter-distrik-netbaltoernooi in ons agterplaas, kan Wellingtonners na strawwe kompetisie, heerlike kykgenot, hope opwinding en baie aksie uitsien.

Jou Goeie Nuus - Gratis - Koerant met 'n Verskil in die Swartland - Ons dien en bou © die courant hou kopiereg op alle inhoud van hierdie webwerf en geen deel daarvan mag sonder die bestuur se toestemming gekopieer word nie.